Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Óns weet!

Lees Matteus 24:36-42.

“Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word” (v 41).

Niemand weet wanneer die weerkoms plaasvind nie, sê Jesus. Niemand nie. Nie eens Hy nie.

O, maar dan kan Hy gerus by hedendaagse ingeligtes kom kers opsteek. Hulle weet alles! Hulle droom drome en sien gesigte en storm dan na die media – of gebruik sommer daardie eie klein kommunikasiewonder, hul selfoon – en verkondig luid: Op dáárdie dag kom Hy weer!

Dan, op daardie dag, kom die son soos elke dag op. Die mense gaan werk op die land en die vroue gaan maal koring by die meul – en die son gaan weer onder. ’n Klomp van die siener se dissipels klouter dan verward uit die gate waarin hulle weggekruip het, en wonder wat het skeef geloop …

Maar ons praat van kanniedood-kenners hier. Hulle staan byvoorbeeld gereed met ’n naamlys van dié wat saamgeneem word wanneer Jesus weer kom en van dié wat agtergelaat word. As jy vra, sal hulle sommer die redes ook verskaf oor hoekom sommige saamgeneem word en ander nié. Hulle weet.

Hierdie “ingeligtheid” is nie ’n moderne verskynsel nie. In die eeue sedert Jesus dié uitsprake gemaak het, het vele teorieë en selfs teologieë hieruit voortgespruit. Sommige het geleerde name, ander is doodgewoon uitgebreide samesweringsteorieë. In alle gevalle maak dit gelowiges bang.

Daardie ingeligtes verwar Jesus se “bly waaksaam”-waarskuwing (v 42) met ’n dreigement. Hulle vergeet dat die weerkoms nie die terugkeer van Boosheid en sy trawante is nie. Dit is Jesus wat weer kom. Hy wat sy volgelinge ken, en hulle vir Hom. Húlle weet hoe Hy is en wat Hy weer hier kom doen.

As U weer kom, kom haal U u pêrels. Ook vir my.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.