Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Altyd gereed

Lees Matteus 24:43-44.

“Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees” (v 44).

“Soos ’n dief in die nag.” Só lui die spreekwoord wat aan Matteus 24:43 ontleen is. Dit is boonop Jesus se eie woorde, soos deur Matteus gerapporteer.

In ’n samelewing wat reeds erg getraumatiseer is deur huisrooftogte wat in die donker plaasvind terwyl die inwoners lê en slaap, val hierdie twee duisend jaar oue metafoor dalk nie in almal se smaak nie. Maar dit is dalk juis die skokwaarde daarvan in ’n tyd soos dié wat die erns van Jesus se “wees altyd gereed” behoorlik in gelowiges se ore laat opklink.

Gelowiges, ja. Want Jesus praat hier op die Olyfberg met sy dissipels wat alleen na Hom toe gekom het en Hom oor hierdie dinge uitgevra het (Matt 24:3). Ongelowiges sal hulle nie vermoei met werklikhede soos Christus se weerkoms nie. Hulle stel doodgewoon nie daarin belang nie.

Dit is dus gelowiges, koninkrykskinders, wat die vermaning moet aanhoor én hulle dié vraag moet afvra: Hoe is dit om “altyd gereed” te wees? Jy kan tog nie heeldag en aldag kop in die lug rondloop om die Koms op die Wolke betyds te probeer raaksien nie, of hoe? (Matt 24:30).

Dalk lê ’n belangrike deel van die antwoord in die einste beeld wat Jesus gebruik; dalk lê dit nóg nader aan die huis as wat ons dink. Dalk moet gelowiges allereers hul eie huis beveilig voordat hulle dit waag om markplein toe te gaan om ander mense te vermaan. Jesus het sy volgelinge immers gewaarsku teen die sekerheid dat jou saak met God reg is, wat jou dan op ander laat neersien (Luk 18:9). “Altyd gereed wees” is waarskynlik nie die onderwerp van ’n vuur-en-swael-preek nie; dit is die diefwering voor jou eie vensters.

Leer my, Here, om na my huis en die mense daarin om te sien.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.