Lees Jesaja 11:1-10.
’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra (v 1).
Jesaja bring groot troos vir die verwarde, leierlose volk: Daar kom ’n nuwe bedeling, sê hy. Dinge sal nou anders verloop. Kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
Julle onthou mos vir Isai, die ou vader van ons Dawid die Grote? Nou ja, uit sy nageslag sal daar nuwe hoop kom. Boonop kan julle uit die staanspoor weet dat hierdie hoop in die Gees van die Here gesetel is. Die Gees wat toerus, wat alles gee wat nodig is om troosteloosheid en hooploosheid te verdryf.
En wie kan solank die hardste begin juig? Die armes, die sagmoediges. Hulle wie se regte so maklik vertrap en wie se hart so maklik gebreek word. Dit is hulle wat die eerste vrugte van die nuwe bedeling sal proe. Nooit weer word hulle uitgebuit en geboelie nie. Daarby kan die boelies en brekers en die uitbuiters en vertrappers hulle maar klaarmaak vir die woede van die Een wat soveel nuwe hoop bring. Hulle sal dit moet trotseer; hulle sal dit egter nie oorleef nie.
Die nuwe hoop sal ook ’n tyd van ongekende vrede inlui. Kyk net hoe lê die wolf en die lam langs mekaar …
Was dit maar ’n droom? Die gesig wat ’n ooroptimistiese mooiweersprofeet in sy geestesoog sien en in die oortreffende trap verkondig aan mense wat ’n dringende behoefte aan goeie nuus het?
Dalk, ja.
Maar sê dit nou vir mense wat reeds die slapies na 25 Desember tel! Hulle wat reeds Matteus 1 se geslagsregister ken. Hulle wie se maklike sinisme elke dag deur wonderwerke geknou word.
Help my uit my ongeloof, Here! Ter wille van myself en my nageslag.
Barend Vos