Lees Psalm 72:18-19.
Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word, mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit. Amen, ja, amen (v 19).
Nie alle gelowiges voel hulle tuis in ’n uitbundige loof-en-prys-omgewing nie. Vir baie is dit net te raserig, te oneerbiedig, te gefokus op die lofprysers se aksies. Te té …
Vir hulle moet lof grootoog geskied. Sonder groot gebaar, sonder uitroeptekens. Meestal fluisterend. Altyd skuifelend met kaalvoete oor heilige grond. “Prys die Heer” is vir hulle nie noodwendig ’n jubeling nie; dit kom dikwels kreunend uit hul diepste binneste.
Hulle hoor hoe hul meer uitgelate broers en susters sê hul aanbidding is dooierig. Dit kort spiere en sprankel! sê die vrolikes. Jou oë moet blink en jou gemoed moet oorloop! Jy loof immers die Oorwinnaar!
Meestal bly sit hulle, die stilles, dan met ’n mond vol tande. Sonder verweer. Dalk dink hulle: Lof in ’n mineurtoonaard is tog ook lof … Dan nie?
Dit sal alle gelowiges loon om na Psalm 72 se afsluitingswoorde te kyk. Dit is lofwoorde, ja. Uitbundig, met selfs ’n dubbele “amen”. Daar word woorde soos “verhewe” en “majesteit” gebruik. Die 1933/1953-vertaling sê “heerlikheid”. En dié vertaling is vol uitroeptekens.
Hoe ook al: In hierdie psalm is daar sprake van lof wat “vir altyd” duur, wat die “hele wêreld” insluit. Dit is duidelik: Om die Here te wil loof, is ’n groot saak. En nie almal benader sulke groothede op dieselfde manier nie.
Wie kan sê wat is die regte manier? Wie loof die beste?
Ag, tog! Dit is ’n vals vraag wat lasterlike antwoorde ontlok. Dit verskuif die fokus van die Lofwaardige na die lofprysers.
Hoor my as ek U loof, Here! Sien my dankbare hart raak.
Barend Vos