Boodskap vir Vandag

Search

Eensgesind

Lees Romeine 15:4-6.

En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê (v 5).

Om eensgesind te wees, is nie noodwendig om eenders te wees nie. Ook nie vir gelowiges nie. Nie eens ons lofliedere, om ’n eenvoudige voorbeeld te noem, word dan in dieselfde toonaard gesing nie.

Vir gelowiges om eensgesind te wees, sê Paulus, is eenvoudig om almal op Een gefokus te wees. Dit is wanneer die aandag na óns begin verskuif, na ons onderskeie opvattings en onderlinge verskille en onmeetlike groot ego’s, dat die eensgesindheid tussen gelowiges ernstig in die gedrang kom. Dit is dan, wanneer ons aandag afgetrek word van God se goedheid na ons en ons geloofsfamilie se eiewysheid, dat ons hart verdeel word. En is dit dan nie Jesus self wat gesê het dié met ’n verdeelde hart sien God beswaarlik raak nie? (Matt 5:8).

Vanselfsprekend vlieg standvastigheid dan by die venster uit. En ons word ’n maklike prooi: Ons vergeet gou wat ons geleer is, ons swig vir wat maklik op ons oor val. Ons leer vinnig om op geloofsverskille te konsentreer en ons laat toe dat Bybelverse uit ons mond buikspreek.

Ook die bemoediging wat ons uit die Skrif kry, word verwater. Die hoop verflou. Kort voor lank begin gelowiges, ons, soos almal praat. Dan sê ons ook: “Ons hoop maar op die beste …”

Waar het dit alles begin, hierdie onverkwiklike toedrag van sake? Daardie dag toe gelowiges opgehou het om na eensgesindheid onder mekaar te streef. Toe ons die eenvoud van onderlinge liefde verruil het vir die ingewikkeldheid van agterdog. Toe ons begin toelaat het dat ons verskille met medegelowiges ons geloofsbelydenis definieer en ons agendas bepaal.

Leer my elke dag, Here, om u eer te soek.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.