Lees Romeine 15:7-13.
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (v 13).
Dit is groot woorde hierdie: hoop, geloof, vreugde, vrede. Woorde so eie aan die Christelike geloof dat ons dit kwalik meer oplet. Ons gebruik dit sonder om twee keer daaroor te dink – soos bekende, gerieflike, effens verslete meubels in ons geloofshuis.
Niemand oorweeg die moontlikheid dat dit uitsonderlike begrippe is nie. Dat hoop byvoorbeeld ’n luukse is waarvan baie sê hulle kan dit nie bekostig nie. Dat geloof ’n rare verskynsel is waaraan moderne mense hulle verwonder. Dat vreugde ’n gesogte moontlikheid is waarvoor baie mense baie duur sal betaal. Dat vrede só ontwykend is dat vele lankal moed opgegee het om dit ooit te beleef.
Nou gebruik Paulus dit in een sin. ’n Sin wat oor getroue Bybellesers spoel, so maklik, so glad dat hulle dit nie eens agterkom nie. Hulle reken dit hoort maar so. Godsdiens klink maar so …
Dit is ’n jammerte. Gelowiges, van almal, behoort mos te weet dat hierdie woorde – en daar is nog van hulle; gaan kyk maar Galasiërs 5:22-23 – ’n geskenk van God is, ’n vrug van die Gees. Dat om sulke woorde as vanselfsprekend te aanvaar en op ’n nonchalante manier te gebruik, die toppunt van ondankbaarheid is.
Dit is woorde wat bedoel is as gelowiges se gereedskap. Dit is dus werkwoorde waarmee ’n gemeente en ’n gemeenskap gedien moet word. Dra dié meubels dan onverwyld buitentoe! Vir vrye toegang, juis ook vir die buitestanders. Dink dan sommer ook oor daardie veel groter woorde in Romeine 15:13: God die Bron, en die Heilige Gees die Kragtige.
Ek is ’n bevoorregte, mens, Here! U het soveel groot dinge aan my gegee …
Barend Vos