Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Padmaker

Lees Matteus 3:1-6.

In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek (v 1).

Die Evangelieskrywer sê hierdie padmaker se opdrag is reeds deur ’n Ou-Testamentiese profeet uitgewys. “Maak vir die Here ’n pad …” (Jes 40:3) het Jesaja destyds al gesê.

Nou is hy hier, interessante kleredrag en al. En wat ’n vreemde dieet: sprinkane en veldheuning! (v 4).

En ’n boodskap wat die hedendaagse lesers goed ken, maar wat die destydse hoorders straks hewig ontstel het: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (v 2). Hulle het na sy opelugdienste gestroom, dáár hul sondes bely en hulle laat doop. Die padmaker baan die weg deur doopwater heen …

Só skep Johannes die omgewing waarbinne Jesus binnekort sou begin optree. Want dit is waarskynlik hierdie einste mense wat na Johannes se vermaning oor die koninkryk luister aan wie Jesus aanstons die koninkryk se stories sou begin vertel. Diegene vir wie Hy die wonderwerke wat in die koninkryk gebeur, sou begin wys. Dat hulle kon weet: Die koninkryk het naby gekom. Baie naby. Trouens, het Jesus mos gesê, “die koninkryk van God is hier by julle” (Luk 17:21).

Met Johannes was dit maar soos met alle padmakers: Wanneer hulle verduidelik, beduie hulle. En hulle wys weg van hulleself af. Hulle weet die pad wat hulle aan ’t maak is, loop in ’n koers wat selfs hulle nie kan voorsien nie. Johannes sou byvoorbeeld die fokus doelbewus van homself af wegkeer. Hy sou sê hy is nie eens werd om die Een vir wie hy die weg voorberei, se skoene los te maak nie. Johannes sou na Hom beduie en uitroep: “Dáár is die Lam van God!” (Joh 1:36).

Alles wys op U, Here Jesus! Ook ek beduie na U as die mense vra wie my troos.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.