Lees Matteus 3:7-12.
Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?” (v 7).
Interessant, nè, dat die elite ook by die Doper se dienste opgedaag het. Boonop, sê die Evangelieskrywer, om deur hom gedoop te word! Die waarheid is soms vreemder as fiksie …
Maar die waarheid maak dikwels ook seer. Johannes loop hulle trompop, noem hulle “slange”, skel hulle oor hul grootheidswaan. Hy waarsku hulle teen die koms van Hom wat sy skop in sy hand het, wat met die Heilige Gees en met vuur sal doop.
Ag, dalk was hulle maar net nuuskierig. Het hulle kom kyk waaroor die bohaai gaan. Kom luister, sodat hulle ook later kon saampraat. En as daar dan ’n dopery op die koop toe is – wel, hoekom nie?
Hoe ook al, Johannes maak dit duidelik dat hy nie wegkruipplek bied nie. ’n Vertoning van vroomheid flous niemand nie, juis nie die Een wat na hulle toe op pad is nie. Hý kom maak skoon, waarsku die Doper.
Die ene vuur en swael. In hierdie kort preek gebruik hy die woord “vuur” drie keer. Die nuuskieriges sou nie kon sê hulle het nie gehoor nie.
Maar hierdie luide stem kom oor twee duisend jaar duidelik hoorbaar ook na ons toe aan. Hy praat só hard dat ook ons die waarskuwing hoor oor bome wat nie goeie vrugte dra nie (v 10) en oor koring wat van kaf geskei gaan word (v 12).
Ons het in elk geval lankal geleer dat ons Hom nie kan ontglip nie. Ook dat nuuskieriges nie sommer volgelinge word nie; dissipelskap eis te veel.
Ek wil nie vir U wegkruip nie, Here Jesus! Ek wil juis by U skuil.
Barend Vos