Lees Psalm 146:5-10.
Die Here regeer vir altyd. Sion, jou God regeer van geslag tot geslag (v 10).
Voorspelbaarheid. Dít, sê die slim mense, is die meeste van ons se begeerte. Paulus sou skryf dat ons vir die regeerders moet bid sodat ons “ ’n rustige en ’n stil lewe kan lei” (1 Tim 2:2). Ons is nie goed met verrassings nie, veral nie uit regeringskringe nie.
Vir die digter van hierdie geliefde lofpsalm is daar geen kwessie nie: Die Here se regering duur vir altyd. Sy kinders kan dus op Hom staatmaak: Hy is wat Hy is. Hulle sal uit eie ondervinding weet hoe lyk sy troue versorging (v 6-7), sy bevryding en genesing (v 7-8), sy liefde en ondersteuning (v 8-9), sy hulp en beskerming (v 9). Hulle weet ook hoe Hy goddeloses dwarsboom (v 9).
Dit is soos Hy is en soos Hy altyd sal wees. Prys dié Heer met blye galme!
Die probleem is dat sy gevolmagtigdes, dié wat Hy aangestel het om te regeer (Rom 13:1), nie noodwendig soos Hy is nie. Hulle is soos hulle is: Hulle sorg allereers vir hulleself. Eiebelang is hul hoogste belang. En daarom sal die siekes en swakkes, die weduwees en weeskinders en vreemdelinge nie in hul regeertyd ’n prioriteit wees nie.
In tye soos dié het gelowiges ’n dubbele opdrag: Ons moet bly bid vir die regeerders, en ons moet ons rustige en stil lewe gebruik om te sorg dat al die Here se kinders op hierdie regeerders se agenda kom.
Nee, ons moet juis nie goedgelowig oor ons konings wees nie; ons hoogste roeping is om die Koning te glo. Om sy verteenwoordigers te wees, voor elke troon en by alle soorte troosteloosheid.
Hoor my gebede, Here, vir hulle wat regeer. Leer my om te gaan help waar hierdie regeerders faal, juis by die weerloses.
Barend Vos