Lees Lukas 1:46-55.
“Ek besing die grootheid van die Here … omdat Hy na my in my geringheid omgesien het” (v 46-48).
Ons sou dit van ons Here verwag – die omsien na geringes. Hy vra immers ook van ons, sy ryklik begenadigdes, om na die geringes om te sien. Hierdie geringes, die kleintjies en mense soos hulle (Matt 19:14), is vername burgers in sy koninkryk, en daarom is hulle wat Hom betref, geregtig op BBP-behandeling.
Ons wonder wel soms, en dikwels hardop en onvergenoeg, oor die dankbaarheid (of gebrek daaraan) van diegene aan wie hierdie ontferming bewys word. So dikwels wil ons diesulkes toesnou, soos vir kinders: “Sê julle dan nie dankie nie!”
Soms onthou ons Jesus se eie ondervinding in dié verband, toe net een van die geneesde melaatses omgedraai en kom dankie sê het (Luk 17:11-19). Té dikwels maak ons mense se uitgesproke dankbaarheid al dan nie die norm vir ons voortgesette betrokkenheid. Sê ons straks iets soos: “As dít die dank is wat ’n mens kry, dan kan hulle maar voortaan self sien kom klaar!”
Niemand sal die jong Maria, die nooi uit Nasaret, van ’n gebrek aan dankbaarheid beskuldig nie. Inteendeel. Haar loflied het nog altyd, met of sonder musiekbegeleiding, woorde én woordprentjies aan stotterende dankbares gegee.
Dankie vir jou dankie, Maria!
Maria het die woorde aan ons gegee, en ander begenadigdes het manjifieke wysies hierby geskryf. Ons kan dit nou nasê en ons kan dit sing. Dalk word ons in dié maand-van-groot-dinge juis geroep om dit ontfermend uit te leef. Dat as ander se dankiesê nie na ons sin is nie, ons dankiesê aan die Gewer ten minste uit volle bors sal wees.
U doen groot dinge aan klein mensies, o Doener, o Gewer. Ek prys u Naam!
Barend Vos