Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Twyfelaars

Lees Matteus 11:2-3.

“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (v 3).

Dit is asof jy jou ore nie kan glo nie: Johannes die Doper, van almal, stuur sy volgelinge om by Jesus uit te vind of Hy inderdaad is wie Hy sê Hy is …

Kan dit wees? Dit is dan die man wat met soveel ywer die koms van sy “meerdere” verkondig het, die Een wie se skoene hy nie werd is om uit te trek nie (Matt 3:11). Het hy wat Johannes is ’n fout gemaak? Was sy bediening dan op ’n vergissing gegrond?

Johannes was nie die eerste een wat aan Jesus getwyfel het nie, en hy sal ook nie die laaste wees nie. Daar is ook twyfelaars tussen diegene wat sy Naam luid in die openbaar uitroep en wat bekend staan as predikers of priesters of profete. Of dopers.

Johannes en ons moet dit goed verstaan: Twyfel se tuin lê teenaan die gelowige se tuisveld. Heelwat van ons tyd word daar verwyl. Dit is daar waar ek sit en wonder of Hy my hoor as ek roep. Of Hy regtig my klagtes ken. Of Hy iets daaraan kan doen.

Dit is daar waar die “hoekom-boompies” met die “waarombessies” groei waarvan ek so gereeld pluk en eet.

Twyfel maak ons nie minder Godskinders nie; in hierdie tuin vind ons susters en broers wat ons dalk nie daar sou verwag nie. Dit is teenoor hulle wat ons die plig het om weg van onsself te beduie, te sê: “Dáár is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem!”

Sodat ons vir hulle, en hulle vir ons, kan help om by die tafel langsaan te gaan aansit, daar waar die brood van die lewe bedien word.

U sien my hart wanneer ek sukkel om te glo, Here. Maak dit stil in my.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.