Lees Matteus 11:4-6.
Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien” (v 4).
Dit is seker die lakmoestoets vir enige reaksie op die evangelie van Jesus Christus, ook vir twyfel: Wat sal Jesus daarvan sê?
Ja, wat sou Jesus se antwoord wees op die vrae waarmee Johannes die Doper se volgelinge na Hom toe gekom het? Dalk iets soos: Sê vir Johannes Ek is bitter teleurgesteld in hom? Gaan vertel hom hy moet hom regruk en nie so jammer vir homself wees nie?
Toe nié. Jesus sê doodgewoon: Kyk mooi wat Ek doen! Luister goed! En gaan vertel hom dan wat julle gesien en gehoor het.
Van die wonderwerke? Inderdaad. Van die goeie nuus wat aan arm mense gebring word? Juis.
Voeg dan sommer by, sê Jesus: “En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie” (v 6). Want twyfelaars se oë kyk net na binne, net na hul eie hart. Hulle het net ore vir hul eie nood. Hulle sien nie die wonderwerke wat voor hul oë plaasvind nie, en hulle hoor nie hoe die goeie nuus klink wat aan mense verkondig word wat veel minder as hulle het nie. Hulle is so in hulleself gekeer dat hulle nooit kennis neem van dinge wat buite hul klein hoekie gebeur nie.
Daarby het sommige van hulle só verknog geraak aan hul wandelinge in Twyfel se Tuin dat hulle vergeet het hoe tuiswees aan die tafel met die lewensbrood is. Hoe hierdie brood gebreek en uitgedeel word. Hoe dit nooit opraak nie.
Gaan vertel vir Johannes hy moet daardie bitter bessies uitspuug! Gaan vertel hom om weer sy plek aan hierdie tafel te kom inneem. Maar dan met oop oë en ore.
Here, ek sien en ek hoor. Dankie vir die lewensbrood wat U vir my breek.
Barend Vos