Lees Matteus 11:11.
“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy” (v 11).
Net Jesus sou so iets durf sê: Hoe groot Johannes ook al mag wees; die geringste in die koninkryk van die hemel is groter.
Die slim mense het nogal heelwat hierop te sê: oor die hoë status wat Jesus met hierdie uitspraak aan die nuwe bedeling gee, die tyd ná Christus. En ons wat met die Bybel grootword, Ou Testament én Nuwe Testament, krap effens kop: Was Moses minder belangrik as Maria Magdalena? En Dawid die koning geringer as Petrus die visserman? Is daar ’n rangorde in die galery gelowiges van wie ons in die Bybel lees?
Moeilik, nè?
Mag ons dit vir onsself makliker maak? Ons kry dit dalk reg deur ons van optel- en aftreksommetjies te weerhou. Deur op te hou probeer plekaanwyser speel, want dan is ons nie anders as daardie ma wat gevra het dat die ereplekke in die koninkryk aan haar twee seuns moet gaan nie (Matt 20:21). Of die dissipels wat vir Jesus gevra het wie die belangrikste in die koninkryk is nie (Matt 18:1).
Ons het tog lankal geleer dat sulke sake God se saak is. Dat ons, ten spyte van wie ons dink ons is, ons plek sal ken. En daardie plek is die een wat Jesus aan ons gegee het toe Hy gesê het: “Kom na My toe, almal …” (Matt 11:28).
Enkele dae voor 25 Desember mag ons wel weet dat Kersfees die fees van die geringstes is. Johannes het dit voorspel. Jesus het dit ’n werklikheid gemaak, en dit aan ons met die bak hande kom gee.
Ek het net een plek, Here, en dit is so naby moontlik aan U. Hou my digby U!
Barend Vos