Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die bekendste verhaal

Lees Lukas 2:1-14.

“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (v 11).

Is dit die bekendste verhaal in die hele Bybel? Dalk wel. Mense wat nie ’n enkele Romeinse keiser se naam ken nie, weet van “keiser Augustus”. Kinders se eerste kennismaking met die begrip “volkstelling” het deur hierdie verhaal plaasgevind. Ag, en al die bekende en geliefde taferele speel voor jou af as jy hier lees: die swanger verloofde, die herberg wat nie plek gehad het nie, die kind wat in doeke toegedraai is.

Én die skaapwagters in die oop veld wat oor hul skape gewaak het. Hulle wat die engel se boodskap ontvang, daardie “goeie tyding van groot blydskap” (v 10). Hoe hulle in die pad geval het na die geboorteplek en gaan vertel het hoe die nuus by hulle uitgekom het. Ja, ons ken die storie. Maar soos dit met bekende stories gaan, luister ons net met die een oor. Dit is anders as die aanhoorders van die skaapwagters se verhaal, wat “verwonderd” (v 18) was, en die jong moeder, wat alles onthou en gereeld daaroor nagedink het (v 19). Die storievertellers self het sing-sing daar weggegaan (v 20).

En ons? Ons vra onsinvrae oor die presiese datum, die rol van Kersbome en geskenke en lawwe winkelliedjies, en ons murmureer oor die algemeen oor die kommersialisering van dié Fees. Pleks dat ons ’n slag onbevange luister na die verhaal, ons daaroor verwonder, probeer onthou wat ons daarin nog altyd geraak het, en gereeld daaroor nadink. Die dag sing-sing deurbring. En kyk of ons, soos in ons kleintyd, ’n slag weer doodgewoon opgewonde kan wees. Soos kinders wat weet dat daar ’n geskenk van Pa op ons wag.

Jaar na jaar herinner U ons feestelik aan ons grootste Geskenk. Hoor ons sing: “Ere aan God in die hoogste hemel!”

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.