Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Waarop dit aankom

Lees Matteus 2:19-23.

Daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is (v 23).

Ons weet nie hoe lank Josef en sy jong gesin in Egipte was nie. Trouens, ons weet omtrent niks van hul verblyf daar nie. Ons weet bloot dat hulle daarheen gevlug het om aan Herodes te ontkom, en dat hulle toe later na hul eie land teruggekeer het, “want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood” (v 20). Só vertel die Here se boodskapper.

En so gaan die Kindjie terug Israel toe, maar vir eers na die noorde, na Galilea. Jesus se reis Jerusalem toe sou eers later kom … Hierdie kriptiese besonderhede is al wat ons van Jesus se vroeë lewe weet. Lukas sou wel ’n kort episode rondom “die Kindjie” se twaalfde lewensjaar met sy lesers deel (Luk 2:41-52), maar verder weet ons niks.

Daar is gelowiges wat reken ons sou by meer besonderhede oor Jesus se jongmenslewe kon baat (daar is van die apokriewe geskrifte wat wel hieroor uitwei), maar dit is maar soos dit is. Ons het bloot wat ons het – én die Evangelieskrywer Johannes se slotopmerkings oor die keuse wat hy gemaak om nie alles te beskryf wat hy weet nie (Joh 20:30-31; 21:25).

Maar wat wil ons meer weet wat tot ons geloofsheil sal bydra? Ons krap immers genoeg kop met wat ons in die Evangelies lees. Ja, Jesus se grootmenslewe bied oorgenoeg uitdagings aan sy volgelinge. Sien, dié wat Hom klein-klein wou doodmaak, het toe self gesterf. Daar het later egter ander gekom, ander boosdoeners, ander agendas – en dit is van hulle wat die Evangelies ons uitvoerig vertel. Dit is dus die kwessies ná Egipte en ná Nasaret wat al ons aandag vra.

Leer my elke dag onderskei waarop dit regtig aankom, Here.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.