Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Genadetye

Lees Jesaja 63:7-9.

Ek sal die troue liefde van die Here verkondig … alles wat Hy gedoen het in sy genade, in sy groot liefde (v 7).

Verkondigers van God se goedheid is welkom om hul boodskap oor te dra, veral as dit met die hoorders daarvan ook goed gaan. As hulle kan saampraat, kan “amen!” sê op alles wat die prediker of priester of profeet kwytraak.

Helaas, aan die einde van ’n veelbewoë jaar sal daar heelparty mense wees, gelowiges, wat iets sal sê soos: “Ek is ook maar bly hierdie jaar is agter die rug!” Daar is min wat entoesiasties en uit oortuiging (en nie uit gewoonte of bygelowigheid nie) hard sal hande klap en “halleluja!” uitroep wanneer ’n prediker of priester of profeet op hierdie dag begin praat oor die Here se roemryke dade die afgelope jaar. Daar is te veel van ons met ’n moeë lyf en ’n verslae gees.

Ja-nee, hierdie jaar het sy tol dubbel en dwars geëis. En die nuwe jaar beloof nie veel beter nie …

Al sukkel ons dus om té opgewonde te raak wanneer breedsprakige predikers en priesters en profete hierdie tyd van die jaar hul hande jubelend in die lug steek, kan ons gerus selfs nog ’n bietjie stiller word. Vir ’n oomblik ons rug draai op die feitlik aaneenlopende gedruis ná Kersdag en voor Nuwejaarsdag.

Skakel gerus ook maar die bruisende predikasies af; daar is ’n tyd vir alles …

Soek dan in jou gedagtes na die genadetydjies van die afgelope jaar: die kere toe goeie dinge jou genadig te beurt geval het en die kere toe slegte dinge jou genadig gespaar is. En moet nie verbaas wees as daar af en toe ’n klein “halleluja!” uit jou mond ontsnap nie.

Die jaar was so lank en u genade was so groot, Here … Halleluja!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.