Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God ken jou op jou naam

Lees Jesaja 43:1-7.

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne (v 1).

Op baie plekke in die wêreld is ons maar eintlik net ’n nommer. Kyk net: By die belastingkantoor het ons ’n belastingnommer. By die Departement van Binnelandse Sake het ons ’n identiteitsnommer en by Buitelandse Sake dalk ook ’n paspoortnommer. Ons bank neem kennis van ons geldsake deur verskillende rekeningnommers, so ook die munisipaliteit, klerewinkels, skole, lewensversekeraars noem maar op. Ja, by al die sentrale instellings in die samelewing is ons in sekere sin slegs ’n klompie nommers op papier. Maar nie by God nie. Nee, Hy ken ons op ons naam. Hy het ons gered deur ons op ons naam te roep. Toe het ons sy eiendom geword.

God hou nooit boek van ons by wyse van rekeningnommers nie. Nee, Hy ken ons altyd op ons naam. Toe Hy ons die eerste keer op ons naam geroep het, het ons daar en dan van eienaar verwissel. Toe het ons die eienaarskap oor ons eie lewe finaal afgeteken. Ons het God toe tot die nuwe Eienaar van ons lewe verklaar.

Ons bevind ons nou in die hande van die lewende God. En dit is die veiligste plek om te wees. Hy waarborg sy persoonlike bystand aan ons in alle omstandighede. Wanneer ons deur groot riviere moet worstel, is Hy aan ons sy. Ook as ons deur die vuur moet stap. Want ons behoort aan Hom. En God pas al sy eiendom persoonlik op.

God van hemel en aarde, dankie dat U my naam ken en dat ek met U mag praat in Christus se Naam.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.