Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Bergop, na God toe!

Lees Eksodus 24:12-18.

“Klim nou die berg verder uit na My toe” ( v 12).

Op ’n dag het God weer vir Moses geroep om bergop na Hom toe te kom. Want God het besluit om ’n persoonlike afskrif van al sy voorskrifte vir Moses te gee. Hy moes dit self in ontvangs kom neem. Sjoe, wat ’n dokument moet dít darem nie gewees het nie. Om te dink Moses kon ’n teks op klip in ontvangs neem wat deur niemand minder nie as God self geskryf is! Praat van ’n waardevolle teks! Onberekenbaar!

Op pad na God toe het Moses gesien hoe ’n wolk die berg omring. Die vuur wat die berg ook hierna omgewe het, het die Israeliete laat besef dat God weer in gesprek met sy dienaar is. Die wolk en die vuur was die bewyse dat God opgedaag het vir sy afspraak. Dit was die teken dat Hy nou die belangrikste geskrewe dokument in die ganse geskiedenis van die mensdom aan Moses sou oorhandig.

Om met God te praat, moes Moses bergop. Hy moes eenkant toe gaan. Hy moes leer om nederig en klein voor die Allerhoogste te wees. Vandag nog is dit so. Elkeen wat met God wil wandel, moet leer om eenkant met Hom te kom. Elkeen wat begeer om Godvrugtig te leef, moet baie tyd in stilte saam met die Koning van alle konings deurbring. Daar in die stilte raak jy regtig bewus van sy heiligheid. Daar eenkant leer jy om sy stem te onderskei van die ander stemme en geraas rondom jou. Klim daarom vandag hoër op, na God toe.

Here, ek kom hoër op, na U toe! Leer my klim.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.