Boodskap vir Vandag

Search

In God se nuwe wingerd dra mense goeie vrugte

Lees Jesaja 27:2-4.

Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd (v  2).

God se wingerd, waarvan ons in Jesaja 5 gelees het, het Hom vroeër sleg in die steek gelaat. Al die vrugte aan daardie druiwestokke was suur en oneetbaar. Daarom dat Hy besluit het om dit te vernietig.

Maar daar is goeie nuus. God het besluit om ’n nuwe wingerd aan te plant. Hy gee nie op nie. Sy boerdery hier op aarde gaan steeds voort. En hierdie keer gaan dit ’n goeie wingerd wees; een wat so baie vrug oplewer dat ’n mens net daaroor kan sing. Die Here sal self hiervoor sorg. Hy sal genoeg water verskaf om sy wingerd nat te lei. En ook dag en nag wagstaan sodat niemand sy vrugte kan beskadig of steel nie. Niemand sal toegelaat word om onkruid in die wingerd te saai nie. Want God sal self al sy druiwestokke oppas.

Ons wat in Christus glo, is nou deel van hierdie nuwe wingerd van God. Jesus is die ware Wynstok en ons almal is die lote (Joh 15). Solank ons in Hom bly, vloei sy lewegewende krag deur ons almal. Dan is daar lewe in oorvloed. En vrug. Dan verheerlik ons God in al die vrugte wat ons dra. Dan kan ander ook van hierdie vrug tot sy eer geniet.

God plant graag mense oor in sy wingerd en beskerm hulle daar. Hy omring hulle met al sy goedheid en sorg. Soos ’n trotse eienaar sorg Hy dat die beste oes uit hulle lewe voortspruit.

Here, gee dat ons almal wat in Christus glo, ’n goeie oes sal oplewer tot die eer van u Naam.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.