Lees Genesis 13:18.
Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou (v 18).
Abram moes God se grondgebied vir Hom gaan terugwen. Dit was sy roeping. Hy was daarom altyd die minste wanneer sy eie grond ter sprake was. Daarom dat Abram vir Lot die beste grond aangebied het toe hulle op ’n dag besef het dat die land waar hulle bly, te klein is vir al hulle vee. Abram wou immers nooit vir homself ’n koninkryk bou nie. Hy was die bouer van God se groot koninkryk.
Abram het gou agtergekom dat die mense van die nuwe land waar hy besig was om God se grondgebied te herwin, nie die Here ken nie. Tog het God nie sy belofte aan Abram vergeet nie en hom weer eens belowe dat al die grond waarop sy voete tans val, eendag aan hom en aan sy nageslag sou behoort. Dit was God se troos aan sy dienaar wat die onbekende moes aandurf.
Toe Abram in Mamre gaan bly het, het hy besluit om sommer dadelik daardie grond vir die Here op te eis deur ’n altaar vir Hom op te rig. Ongelowiges het nie in sy pad gestaan om voluit vir God te leef nie.
Al loop daar vandag baie ongelowige voete oor God se grond, kan sy kinders dit terugwen. Ons kan weer God se vlag laat wapper oor sy grond. Abram het dit gedoen deur ’n altaar te bou. Wil jy nie ook vandag ’n vlagdraer wees wat God se vlag op vreemde terrein gaan inplant nie? Gaan praat ’n slag daar by jou werk of tussen jou vriende oor die lewende God. Dan wen jy regtig grond!
Here, maak my asseblief ’n getuie van Christus!
Stephan Joubert