Lees Maleagi 1:2.
Ek het julle lief, sê die Here (v 2).
In ongeveer die jaar 430 vC verskyn Maleagi op die toneel. Ná die voltooiing van die tempel ’n klompie jare tevore is die volk op soek na God se voetspore en sy vingerafdrukke op hulle lewe. Toe stuur die Here sy boodskapper met ’n boodskap: “Ek het julle lief!” Wat ’n manier om te sê dat Israel nog saak maak! Wat ’n trooswoord!
Nee, hulle is nie afgeskryf en vergete nie. Hulle is nie alleen tussen die nasies hier op moederaarde nie. Al die ander nasies rondom hulle wat so verwaand is, sal tweede kom. Die Edomiete met hulle grootheidswaan se nuwe bouwerke sal spoedig in puinhope verander. Ja, tot ver buite die grense van Israel sal sy volk weer die Here se magtige handewerk sien. Dit is die eerste genadewoorde van Maleagi wat die Here stuur na sy moedelose mense toe. Hulle moet dit hoor en sien.
In ons dag gaan die liggie van hoop dikwels af rondom ons. Moedeloosheid oorval ons so maklik. Dan wonder ons saam met die mense in Maleagi se tyd of die Here nog van ons weet. Die goeie nuus is dat Hy ons ook liefhet. Die kruis van Golgota roep kliphard uit dat God nie vergeetagtig is nie. Hy onthou ons elkeen. Hy ken ons selfs by die naam, so naby is Hy deur sy Gees aan ons. So groot is sy ontferming oor elkeen wat Hom dien.
Here, help my om te volhard wanneer dit moeilik gaan.
Stephan Joubert