Lees 2 Petrus 2:2.
Baie mense sal hulle losbandigheid navolg (v 2).
Groot handelsname beskerm hulle goeie naam met alles in hulle vermoë. Hulle sal nie huiwer om mense hof toe te vat wat hulle naam onwettig gebruik nie. Ten spyte hiervan dra baie horlosies, klere, kosmetiese produkte, rekenaars en ander produkte die naam van internasionale handelsname, maar is niks anders as goeie vervalsings nie. Petrus sê vir ons dat daar mense is wat die boodskap van Christus vervals en naboots. Hulle doen dit ter wille van allerlei bymotiewe.
Gelukkig gee Petrus vir ons riglyne oor hoe ons die vervalsings kan uitken: Vervalsers van die evangelie verdraai die Bybel as ’n dekmantel vir hulleself om in sonde te leef (v 2). Hulle vertel vir elke goedgelowige hoorder dat dit reg is om aan losbandige sondes toe te gee. Dan misbruik hulle boonop nog sulke mense ter wille van hulle eie begeertes. Kyk maar net rondom jou hoeveel “vroom” kerkmense al voor seksuele sondes geswig het, dan sien jy hoe aktief vervalsers van die evangelie is.
Hulle het volgens Petrus net een doel voor oë, en dit is om geld te maak uit die Woord van God (v 3). Hulle vertel graag vroom stories oor hulleself om geld uit ander gelowiges te wurg. Oppas vir sulke mense. Vermy hulle.
Here, moenie dat ek die knie voor valse leringe buig nie, asseblief.
Stephan Joubert