Lees Lukas 23:32-43.
“Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (v 43).
Jesus se werk het nog nie opgehou nie. Selfs tot daar aan die kruis, toe Hy aan die einde van sy kragte was, het Jesus nog ’n hart vir stukkende mense gehad. Vra maar vir die een misdadiger wat langs Hom aan ’n kruis gehang het. Terwyl die ander gekruisigde met Jesus gespot het, het hierdie man langs Jesus hom tereggewys en vir Jesus gevra om tog net aan hom te dink as Hy in sy hemelse koninkryk aankom.
Wat ’n verrassing het nie op hierdie man aan die kruis gewag nie! Daardie dag het hy oneindig meer gekry as net ’n blote gedagte. Jesus het nie net aan hom gedink nie. Hy het die hemelse tapyt voor hom uitgerol. Skielik is hierdie man as ’n eregas op die drumpel van die paradys ontvang. Sy laaste asemteug op aarde is verruil vir ’n hemelse genadeteug toe hy net hierna sy oë in die hemel oopmaak. Jesus se belofte dat hy op daardie einste dag nog saam met Hom in die paradys sou wees, was die rede vir hierdie fees!
Jesus gee veel meer aan genadebedelaars as wat hulle ooit kan besef. Jesus gee permanente verblyfreg in sy Vader se hemelse woning aan elkeen wat Hom vra. Hy sluit die lewe vir altyd voor elke smekeling oop, vandag nog! Ja, ook vir jou is daar genade by die Man van die kruis te vind. Gaan vra Hom net.
Here Jesus, dink ook aan my.
Stephan Joubert