Boodskap vir Vandag

Search

Oop harte vir mekaar

Lees Romeine 16:1-2.

Ek beveel ons suster Febe wat diaken is in die gemeente in Kenchreë, by julle aan (v 1).

In die vroeë kerk was daar ’n groot netwerk van vriendskap wat gelowiges in staat gestel het om by ander gelowiges tuis te gaan sonder dat hulle mekaar eens geken het. Omdat daar nie hotelle in daardie tyd was nie en omdat herberge maar berugte plekke was, was mense afhanklik van die gasvryheid van ander wanneer hulle in vreemde stede of dorpe gaan oorbly het. In daardie tyd het plaaslike Christene mekaar egter gehelp deur reisende gelowiges van briewe te voorsien wat hulle kon saamvat na gelowiges in ander stede. Hulle sou help met slaapplek en kos. Paulus volg so ’n strategie wanneer hy nou vir Febe, ’n kerkleier in Kenchreë, een van die hawedorpies van Korinte, aanbeveel by die gelowiges in Rome. Hierdie vrou is op pad na Rome toe; daarom neem Paulus die vrymoedigheid om die Christene wat daar bly, te vra om haar goed te ontvang en gasvryheid aan haar te bewys.

In ons tyd moet ons steeds oop harte en oop hande vir mekaar hê. Ons as Christene moet altyd bereid wees om medegelowiges te help en van die nodige te voorsien as hulle swaar kry. Selfs daardie gelowiges wat ons nie op die naam ken nie, is steeds ons broers en susters in die Here. Ons is mekaar se bloedfamilie; daarom moet ons voortdurend aan mekaar gasvryheid bewys.

Maak my lewe en my huis oop vir u kerk, Here.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.