Boodskap vir Vandag

Search

’n Leerbare gees is nodig

Lees Spreuke 12:1-4.

Wie hom laat leer, wil graag kennis ontvang (v 1).

Op ’n dag sê ’n man voor Bybelstudie vir my dat hy dit net bywoon ter wille van sy gesin. Self hoef hy niks meer te leer nie, want hy is geestelik volwasse genoeg. Dit het my nogal diep laat nadink. Kan ’n mens ooit by ’n punt uitkom dat jy nie meer hoef te leer nie? Ek dink nie so nie.

As jy geestelik wil groei, moet jy ’n leerbare gees hê. Dan moet jy altyd bereid wees om by ander te leer. ’n Mens is nooit te oud, te slim of te geleerd om nog iets te leer nie. Jy weet nooit alles nie. Inteendeel, hoe langer jy op God se pad stap, hoe meer besef jy hoe min jy weet.

Voltydse studente in God se skool van wysheid sien die lewe as ’n groot leerskool. Kindertjies, slim professore, tuinwerkers, huisvroue, kelners, direkteure – ja, almal met wie hulle daagliks te doen het, is mentors, afrigters en leermeesters. Maar hierdie studente van wysheid wil veral by die Meester self, by Jesus Christus, kom leer. Aan sy voete is daar altyd nog plek vir iemand met ’n leerbare gees. By Hom bruis daar altyd strome van lewende water. Jesus het oorgenoeg brood vir elke hongerige en genoeg water vir elke dorstige. Kom sit daarom vandag aan sy voete.

Here, maak my gewillig om te leer by ander en veral by U.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.