Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wyse mense weet wat reg is en wat nie

Lees Spreuke 28:1-8.

Slegte mense het geen begrip van wat reg is nie (v  5).

Die Here se soort wysheid stel mense in staat om te weet wat reg is en wat nie. God skryf sy wet oor in die harte van almal wat dag na dag in sy skool van wysheid deurbring. Daarom het hulle ’n goeie begrip van wat reg en verkeerd is. Omdat hulle deurentyd sensitief is vir die leiding van God se Gees herken hulle sy stem as Hy met hulle praat. Dan loop hulle ook op die koers wat Hy vir hulle aandui.

Mense wat nie in pas met God stap nie, het dikwels die grootste monde wanneer dit by reg en verkeerd kom. Maar wanneer dit by God kom, verwerdig hulle hulle nie eens om voor Hom te buig nie. Ook geen wonder nie, want dwase het geen idee van reg of verkeerd nie. Hulle vra immers nie na God se wil nie.

Leef vandag wys. Vra na God se wil vir jou lewe. Luister totdat jy die hemelse koersaanduidings hoor. Kyk totdat jy mooi sien waar jy jou voete moet neersit. Doen dit dan. Vertrou die Here om jou te leer wat reg is en wat nie. Laat Hy jou onderrig oor die pad van die lewe waarop jy vandag moet stap. Vermy tog maar die advies van dwase. Hulle het geen idee wat God wil hê nie. Hulle leef in ’n doodloopstraat. Wees jy liewer die een wat hulle met lewende raad bedien.

Here, maak my sensitief vir die waarheid.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.