Lees Spreuke 29:6.
Iemand wat reg doen, kan vrolik sing (v 6).
Mooi, nè! Gehoorsaamheid aan God plaas hemelse musiek op jou lippe. Enige liriekskrywer sal vir jou sê dat dit nie maklik is om goeie lirieke te skryf nie. Dit verg sweet, inspanning en kopkrap. Komponiste worstel met dieselfde dilemma. ’n Goeie, gepaste melodie kom nie maklik nie. Maar wanneer daardie inspirasie die slag inskop, val al die regte woorde skielik in plek. Dan vloei musiek soos ’n waterval!
Dieselfde geld vir ons. Ons skryf elke dag die lirieke van ons lewe. As ons leef soos ons wil en net af en toe voor God buig, skryf ons vals melodieë en onsingbare lirieke.
Watter musiek en lirieke komponeer jy vandag? Sing jy hemelse musiek? Jubel jou lewe uit dat God goed is? Is jou ganse bestaan ’n lofoffer aan Hom? Of roep jou lewe uit dat jy eintlik ’n klug is – ’n skynheilige wat een ding sê en iets anders doen? Wel, gooi dan daardie bladmusiek en lirieke weg. Laat staan al daardie uitgediende musiek. Leef in ritme met God se wysheid, dan sal jy die mooiste nuwe melodieë en woorde hê om vandag te sing en te beleef!
Here, skryf vandag nuwe musiek vir my lewe.
Stephan Joubert