Lees Deuteronomium 29:22–30:4.
“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God … ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet” (29:29).
Behandel jy belangrike mense anders as “gewone” mense? Praat jy minder hoflik met mense wat minder aansien in jou oë het? Een van die uitdagings wat geloof aan jou stel, is juis om minder te word in jou eie oë! God verwag van jou om klein te wees en meer gehoorsaam aan Hom. In Deuteronomium 29–30 lees ons dat God ongehoorsaamheid en hoogmoed nie kan verdra nie. Ons is soms so behep met onsself – met óns idees oor reg en verkeerd, óns prestasies, óns regte, óns omstandighede! Ons speel alte heerlik hierdie “ons is al wat tel”-speletjie …
Ons selfgemaakte “grootheid” wys wanneer ons ander mense gedurig doodpraat, of wanneer ons heeltyd die middelpunt van al die aandag wil wees. Ons opgeblase opinies oor onsself word hoorbaar wanneer ander nie gou genoeg hoog genoeg spring in ons nabyheid nie. Party mense meen blykbaar hulle status of titels gee aan hulle die reg om beter behandeling te ontvang as diegene wat nie so “belangrik” soos hulle is nie.
Kom ons bly binne God se openbaring. Kom ons leef gehoorsaam aan Hom. Ons is glad nie so groot soos wat ons dink nie. Net God beskik oor alle kennis en wysheid. Ons veiligste plek is daarom altyd laag aan sy heilige voete.
Maak my nederig voor U en voor ander, Here.
Stephan Joubert