Lees Psalm 130.
Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag (v 6).
Weet jy hoe dit voel om te wag? Veral as die ry voor jou nog baie lank is en jy sien hoe die een kosbare minuut ná die ander verbytik? Dan is dit swaar om te wag en jy raak ongeduldig en moedeloos. Maar wag is ’n baie belangrike deel van ons geestelike mondering, al hou ’n mens net mooi niks daarvan nie. Die psalmskrywer sê immers dat ons gedurig op God moet wag.
Om op die Here te wag is nie ’n sinlose verkwisting van kosbare tyd nie. Ook nie ’n getjommel in ’n lang tou voor ons wat nog wag op die een of ander gebedsverhoring nie. Om te wag, is om op God self te wag.
Wag vandag op die Here tot jy weet dat alles in jou lewe om sy eer gaan, nie om joune nie. Wag tot God se grootheid jou baie klein laat voel en jy gestroop is van al jou selfvoldaanheid en beterweterigheid. Wag op die Here tot die onrus binne-in jou hart plek maak vir vrede. Wag tot jy die innerlike versekering kry dat jy op die Here se koers hemelwaarts is, nie op jou eie verdwaalpad nie.
Moenie net op dinge wag as jy voor God stil word nie. Dan wag jy verkeerd. Dan gaan jy kort voor lank ongeduldig raak, want dan sien jy God hoogstens as die Een wat op aanvraag in al jou behoeftes moet voorsien. Vergeet daarvan. God is nie in jou diens nie. Hy is die Here van die leërskare. Daarom wag jy lewenslank op Hom, elke dag … Oefen jou hierin. Wag op die Here.
Here, ek wag vandag net op U.
Stephan Joubert