Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Bid om te ontvang

Lees Lukas 11:1-13.

“Vra en vir julle sal gegee word” (v  9).

God word glad nie beïndruk deur ’n stortvloed woorde nie. Hy sit nie ’n stophorlosie in die hemel aan as jy begin bid nie. Sommige mense meen dat lang gebede ’n spesiale indruk op God maak, of dat ’n groot klomp mense wat bid ’n groter impak het as net een opregte gebed. Nou ja, daar is niks mee verkeerd om lank te bid nie. Ook nie as ’n groot groep mense tot God in gebed nader nie. Maar jy moenie dink dat die blote feit dat jy lang gebede bid, of dat baie mense saam tot God nader oor ’n saak, enige spesiale druk op Hom plaas om te moet antwoord nie. Gebed is nie ’n armdruksessie met die Allerhoogste nie. Nee, gebed vra altyd dat jy jou wil ondergeskik stel aan Syne. Wil jy vandag ook ’n doeltreffende bidder wees? Verander dan jou gebede in opregte, kort gesprekke met God.

As daar nog ’n belangrike ding is wat jy vandag oor God moet weet, is dit dat Hy die hoorder van gebed is. So stel Jesus Homself bekend in ons teks. Ongelooflik dat die Almagtige tyd het om na jou te luister! Nooit is God besig met belangriker dinge as jy in Jesus se Naam voor Hom verskyn nie. Nee, dan los Hy alles om te hoor wat jy vir Hom wil sê.

Hy maak die poorte van die hemel wyd oop as jy opreg en in Jesus se Naam begin bid. Hy laat seën reën as jy met Hom praat. Glo dit! Moenie moeg word nie. Hou aan met klop. Staan elke dag in die hemelse poorte totdat Hy jou genadig is.

Here, ek staan vandag in u hemelse poorte om te bid.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.