Lees Handelinge 13:1-3.
Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan (v 3).
Gebed is die hartklop van die kerk. Kyk maar na die kerk van Antiogië. Toe hulle besluit het om die eerste sendelinge uit te stuur, het hulle nie eers uitgerekte kerkraadsvergaderings gehou en begrotings deurgepraat nie. Nee, hulle het God se aangesig gaan soek. Hulle het gebid en gevas om God se wil vir hulle kerk te vind.
Ons weet dat gebed ’n basiese bousteen van ons geloof vorm, maar of dit die regte plek in ons lewe inneem, is ’n ander vraag. Ons sukkel soms om te bid omdat ons dink dat ons gebede lang monoloë met God moet wees. Lang gebede is nie ’n voorwaarde vir opregtheid nie. God word nie beïndruk deur ’n stortvloed van woorde nie. Daar is niks verkeerd met lang gebede nie, maar ons moenie dink dat dit enige spesiale druk op God sal plaas om te antwoord nie.
Wil jy ook ’n kragtige bidder wees? Verander dan jou gebede in gereelde, kort gesprekke met God. Deel dit wat op jou hart is in opregtheid met die Here. Doen dit gereeld. Sommer deur die loop van die dag. Dan werk gebed volspoed in jou lewe!
Here Jesus, leer my om reg te bid, asseblief.
Stephan Joubert