Lees Nehemia 4:15.
Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het (v 15).
Gebed is nie ’n ontsnappingsroete uit die werklikheid nie. Gebed mag jou nooit jou eie verantwoordelikhede laat ontduik nie. Met ander woorde, jy kan nie bid en dan maak asof jy skielik geen verantwoordelikheid meer het vir wat in jou lewe gebeur nie. Moenie maak soos die ou dame wat eenkeer in ’n ongeluk was nie. Sy het te vinnig met haar motortjie op ’n draai afgepyl, maar toe sy sien sy gaan nie om die draai kom nie, het sy gebid dat die Here nou maar die stuurwiel moet oorneem. Ná die tyd het sy toe ewe vroom gesê: “Nou ja, toe die Heer die stuurwiel vat, kon Hy ons ook nie om die draai kry nie. Toe het die motor drie maal gerol!” Dit is nou ’n klassieke voorbeeld van die ontduiking van verantwoordelikheid. Gebed laat jou nooit jou hande in onskuld in die lug gooi terwyl jy die vinger na God toe wys nie. Nee, gebed laat jou werk ook.
Nehemia en sy mense het gebid, maar ook gewerk. Hulle moes die muur rondom Jerusalem voltooi. Daarom is hulle gebede vergesel deur harde werk. En deur die nodige veiligheidsmaatreëls. Gebed werk, maar gebed vra ook werk. Dit laat jou nie met gevoude armpies agteroor sit nie. Nee, dit aktiveer jou. Gebed laat jou altyd jou kant bring. Maar dit laat jou ook op die uitkyk bly vir God se hulp. Want bidders weet dat God help. Hy beskik hulle omstandighede so dat sy wil geskied in hulle lewe.
Jesus, help my om verantwoordelik te bid en te leef.