Lees Nehemia 9:9-12.
“U het die nood van ons voorvaders in Egipte gesien” (v 9).
Gebed is vir party mense swaar. Hulle weet nie wat en hoe hulle behoort te bid nie. Wel, eintlik is hulle heeltemal reg. ’n Mens moet immers leer bid. Vra maar vir Jesus se dissipels. Hulle het op ’n dag by Hom gekom en Hom gevra om hulle ook te leer bid. En toe doen Jesus dit (Luk 11). Te veel van ons bid te maklik. En sommer verkeerd ook. Dink net terug aan hoeveel gebede jy al in die kerk moes aanhoor van mense wat die Bybel omtrent elke keer van Genesis tot Openbaring deurgebid het.
Ons moet leer bid. En niemand in die kerk leer ons nie. Om die een of ander duistere rede aanvaar ons dat almal in die kerk vanself kan bid. Wat ’n fout! As Jesus dit nodig gevind het om sy dissipels te onderrig in gebed, wie is ons dan om so selfvoldaan te bid? Moet ons dan nie meer beskeie wees en behoorlik leer bid nie?
Les een van gebed leer ons hier saam met Nehemia en die Israeliete. En dit is om God al lofprysend te herinner aan sy groot dade van die verlede. Gebed is om terug te kyk op God se reddingsdade en om dit vir Hom te vertel. Dit is om van voor af bly te wees oor die uitkoms wat Hy gebied het aan sy volk. Wil jy ook reg bid? Kyk dan maar net terug op God se reddingsdade in die geskiedenis en loof Hom daarvoor! Sê oor en oor dankie vir Hom.
Almagtige, u reddingsdade is te veel om op te noem.
Stephan Joubert