Lees Jeremia 42:1-3.
“Bid vir ons tot die Here jou God, vir ons almal wat oorgebly het” (v 2).
Diegene wat nie na Babel weggevoer is nie, maar in Jerusalem agtergebly het, het nou vir Jeremia kom vra om vir hulle te bid. Hulle wou weet of hulle in Juda moes agterbly, of na Egipte toe moes vlug. Hulle het belowe dat hulle presies sou doen wat die Here deur Jeremia aan hulle bekendmaak.
So gesê, so gedaan. Tien dae later het die Here sy wil aan Jeremia bekendgemaak: Die mense moet in Jerusalem bly. As hulle na Egipte toe vlug om geweld en swaarkry te systap, sal die gevare en geweld wat hulle wou vryspring, hulle in Egipte inwag.
Het die mense toe geluister soos hulle belowe het? Kennelik nie. Weer eens is Jeremia se profetiese woorde verwerp. Hy het presies vir hulle gesê wat God se wil is, maar hulle het klaar besluit wat hulle wil doen. Moenie in hierdie strik trap nie. As jy ernstig is oor God se wil, doen dit dan, al gaan dit lynreg teen jou eie planne in. Dalk soek jy elders na ’n veiliger hawe, maar dalk gaan dit vir jou net oor jou eie selfsugtige behoeftes. Maak eers doodseker van God se kant van die saak.
Here my God, keer my wanneer ek my eie kop wil volg en nie na u raad luister nie.
Stephan Joubert