Lees Markus 11:20-25.
“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom” (v 25).
“Vergifnis” en “genade” is gevaarlike woorde. Dit is baie makliker om oor hierdie woorde te praat as om dit in dade om te skakel. Want vergifnis vra altyd die onmoontlike. Dit vra tweede myle en boeke wat toegemaak moet word. Om te haat is menslik, om te vergeef is Goddelik. Vergifnis is presies wat God in ons omgekrapte en deurmekaar wêreld kom doen het. Hy het vergifnis om elke hoek en draai kom uitdeel waar haat wen. Hy het menslike woede met Goddelike vergifnis kom klop. Vandag doen God dit nog steeds. Maar op ons skouers rus die dure plig om deel te word van hierdie stroom van hemelse genade en vergifnis.
Vergifnis beteken dat ons mense se oortredings afskryf. Ons moet ander vergeef en mag nie ’n wrok koester nie. Jesus sê selfs dat ons dit nie eens moet oorweeg om te bid as ons nie bereid is om ander mense se foute te vergewe nie. Dan mors ons ons tyd. Nog erger: dan mors ons God se tyd. Ons kan nie verwag Hy moet na ons luister as ons nie bereid is om ander ’n tweede kans, of selfs ’n honderdste kans, te gee nie. Om met God te wandel, moet ons altyd en oral met ander oor die weg kom. So nie, moet ons ons aangeplakte geloof liewers laat staan.
Here, leer my om ander te vergeef.
Stephan Joubert