Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Tree in vir jou mense

Lees Esra 9:1-7.

“My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel” (v 6).

Soms moet ’n mens maar net voor God gaan sit sonder om iets te sê. Daardie kere as jou gemoed so vol is dat jy nie eintlik kan praat nie, moet jy maar net in sy teenwoordigheid bly sit. Dit is wat Esra gedoen het toe sy volk se sondes hom platgeslaan het. Maar uiteindelik het hy wel met God begin praat. En toe kon hy nie anders as om namens hulle skuldig te pleit voor God nie. Esra het vir God gesê dat sy mense se sondes soos berge voor Hom opgestapel is. Dit het te hoog geword! Enige oomblik kon dit op hulle intuimel!

Al wat Esra met die Israeliete se oortredings kon doen, was om die hele spulletjie voor die Here se troon te gaan neersit. Hy het geen ander keuse gehad as om dit te doen nie. Natuurlik was hy stukkend oor wat sy mense aan God gedoen het. Daarom moes hy namens hulle almal bely: “Ons het u gebooie oortree” (v 10).

Soms leef ’n mens so intens saam met ander rondom jou dat hulle probleme jou letterlik op jou knieë dwing. Ja, jy het later geen ander keuse meer as om vir hulle te gaan bid nie. As jy dalk nou in so ’n situasie is, moet jy eenvoudig maar daardie mense se laste op jou eie skouers tel en dit na God se troon toe dra. Dit help nie jy hou aan karring met mense wat droogmaak nie. Praat help later nie meer nie. Bid liewer vir hulle. Gaan deel hulle probleme en sondes met God. Dra hulle laste na Hom toe en bid om genade vir hulle!

Here, ek bid vir hulle wat vasgeval het in sonde.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.