Lees 1 Timoteus 2:1.
Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense (v 1).
Hoe maklik moet dit nie vir ons as gelowiges wees om ons oop te stel vir verrassende ontmoetings met God in die mees onverwagte oomblikke in ons lewe nie! Ons moet begryp dat doodgewone oomblikke in ons lewe die potensiaal het om Goddelike ontmoetings te word wat skielik nuwe deure voor ons laat oopgaan. Hoeveel nuwe moontlikhede wag daar nie op ons as ons dit waag om God se hand in die alledaagse lewe rondom ons raak te sien nie! Hoeveel opwindende nuwe dinge gaan nie dalk begin gebeur as ons toe-oë begin glo dat die Here regtig groot en verrassende dinge kan doen nie!
Geen situasie, geen verhouding, geen omstandigheid, geen instelling is ooit so onbeweeglik en so morsdood dat ’n verrassing uit die hemel dit nie in ’n nuwe rigting kan stuur nie. Maar dan moet ons altyd bereid wees om fasiliteerders van hierdie Goddelike verrassings te wees. Ons moet geleenthede wat God oor ons pad stuur, raaksien en ook ander se oë hiervoor oopmaak. Die sleutel lê in ons verwagting van ons Here om die onmoontlike te doen. Dan is ons nie blote slagoffers nie maar aktiewe rolspelers.
Hoe word ons lewe deel van hierdie Goddelike verrassings? Deur gebed. Begin bid vir alle mense, soos Paulus sê, en wees dan op die uitkyk vir ongelooflike antwoorde.
Dankie, Here, dat U gebede verhoor. Stephan Joubert