Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gebruik dit wat jy ontvang het

Lees 1 Timoteus 6:20

Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is (v  20).

“Wat kan ek vir die Here beteken? Ek is te swak om regtig ’n verskil te maak.” Dis glad nie waar nie. Die Here vra nie dat jy eers moet sterk wees voordat jy vir Hom kan begin werk nie. Ook nie dat jy al die beste toerusting en mense tot jou beskikking moet hê nie. Gebruik maar net wat jy het, stel dit tot die Here se beskikking en kyk wat gebeur!

In Johannes 6 lees ek van ’n seuntjie wat vyf brode en twee vissies gehad het. Hy was ’n klein stippeltjie in ’n skare van baie meer as vyfduisend wat na Jesus geluister het. Toe Jesus besluit het om vir hulle almal kos te gee, was daardie klein bietjie kos in sy hand oorgenoeg vir ’n hemelse feesmaal. Dit wat hierdie onbekende seuntjie vir die Here gegee het, het skielik tot ’n oorvloed gegroei. Leer by hom om die bietjie geld, geestelike talente en toewyding wat jy het vir die Here te gee. Vertrou Hom dan om dit te vermeerder tot ’n ryk oes.

Gebruik wat jy het deur te bewaar wat jy reeds het. Hier in 1 Timoteus het jy reeds ’n hand vol geestelike geskenke uit God se Woord ontvang. Gebruik dit en leef daaruit. Dan het jy meer as genoeg om die Here te verheerlik. Dan hoef jy nie nog te sit en wag op iets spesiaals wat moet gebeur nie.

Here, open my oë vir mense in nood. Laat my help.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.