Lees 2 Kronieke 30:14-27.
Maar Hiskia het vir hulle gebid (v 18).
Toe bid Hiskia … en God luister. Net een gebed was genoeg om die lewe van baie mense te red, mense wat nie al die reinigingsvoorskrifte nagekom het vir die viering van die Paasfees nie. Een gebed van ’n koning so reg na God se hart het die hemelse oordeel in seën verander en die Paasfees in ’n week lange fees, waar God geëer en aanbid is.
Kom ons bid vandag saam vir ons stukkende wêreld. Kom ons beleef iets van die groot krag van gebed as ons nou smekend en diep afhanklik tot ons hemelse Vader nader:
Goeie Heer en Hemelvader, wees asseblief vandag ongelooflik goed vir u wêreld. Laat die sonskyn van u genade oor die ganse aarde skyn. Gee dat baie mense vandag deur Christus tot geloof in U sal kom.
Wees sondaars genadig en red hulle uit die vuur.
Ontferm U oor elke sieke, eensame en bedroefde.
Gebruik ook vir my om ’n weerkaatser van u hemelse goedheid te wees.
Maak my minder in my eie oë sodat U my meer en meer kan gebruik. Dankie dat U om Christus se ontwil die Hoorder van gebed is. Amen.
Here, plant u kruisgenade vandag in die middelpunt van ons stukkende wêreld.
Stephan Joubert