Lees Kolossense 4:2.
Volhard in die gebed! (v 2).
Sukses vra harde werk. Vra maar vir enige suksesvolle persoon. Daar is geen kortpaadjies nie. Dissipline, vasbyt, doelgerigtheid – sulke dinge kenmerk toppresteerders se lewe.
’n Lewe waarin God verheerlik word, vra deursettingsvermoë. Sonder geestelike stamina is jy gedoem tot middelmatigheid. Dan val jy oor elke nuwe sonde wat in jou pad kom. Paulus weet hoe noodsaaklik geestelike oefening is. Daarom dat hy ons oproep om geestelik te oefen. Hoe? Wel, die antwoord is duidelik: deur aan te hou bid! Gebed verander jou in iemand wat geestelik fiks genoeg is om vinnig van die sonde af weg te hardloop en wat voluit hardloop op die Here se pad.
Wanneer jy weet met watter doel jy jou inspan in die Here se diens, en ook hoe om dit reg te doen, is jy gemotiveerd om jou doel te bereik. Christene wat egter nie mooi weet waaroor geloof regtig gaan nie, karring voort saam met die stroom van middelmatigheid wat vandag baie breed deur die kerk vloei. Die oplossing is geestelike vasbyt! Meer korrek: Volhard in gebed.
Is jy moedeloos? Wel, bid dan! Is jy geestelik uitgeput? Bid dit uit die pad uit. Is die kerk te dood na jou sin? Bid daaroor. Gebeur daar nie meer wonderwerke in jou lewe nie? Val dan op jou knieë neer en soek die aangesig van God, totdat Hy jou in genade aansien.
Here, verander my in ’n bidder, asseblief.
Stephan Joubert