Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vra en leef

Lees Amos 5:4.

“Vra na my wil, dan sal julle lewe!” (v  4).

Sukses is nie baie besittings as jy ’n volgeling van Jesus van Nasaret is nie. Nooit definieer Jesus voorspoed of geluk aan die hand van die hoeveelheid besittings of geld wat jy op jou naam het nie. Sukses het altyd met ander te make. Sukses is om al hoe meer uit die hoofrol van jou lewe geskryf te word en daardie plek aan God en ander mense rondom jou af te staan en om volgens sy wil te lewe.

Hoor weer: Sukses is regtig nie hoeveel jy besit nie, maar hoeveel mense deur jou gedien en op die hande gedra word. Sukses is diensbaarheid, selfverloëning en opoffering. Dis die enigste roete wat die moeite werd is om hier op aarde te bewandel.

Sukses is ook om God se wil te soek, by Hom alleen te gaan hulp vra en na Hom op te kyk vir leiding. Sukses is om die Here te vrees en sy gebooie te gehoorsaam. Dis om Hom tree vir tree te volg en enduit op sy pad te stap, al kos dit jou baie duur. Om die Here se wil te soek is gelyk aan die lewe self. So sê die Here in Amos 5:4. Dis ware lewe! Hoekom dan nie doen wat die Here sê nie? Hoekom dan nie vra na sy wil en soek na sy paaie van geregtigheid nie?

Hoekom dan nie klaarkry met mensgemaakte speletjies en nuttelose tydverdrywe nie? Die Here se pad is een van gehoorsaamheid en lewe, nie van skynheilige vroomheid nie.

In opregtheid wy ek my lewe aan U, God Almagtig.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.