Lees Jakobus 4:7.
Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen” (v 15).
Ons word slegs ’n paar jaar se lewe hier op aarde gegun; ’n klompie treë om in God se lig te mag loop. Ons moenie willoos van een dag na die volgende voortsukkel nie. Nee, ons het lewe uit God se hande as ’n geskenk gekry. Hoeveel lewe ons nog oor het, dit weet ons nie. Ons weet nie of ons nog môre of volgende week hier sal wees nie. Daarom dat Jakobus 4:15 ons waarsku om nie so selfversekerd ons eie lewe te beplan asof ons volledig beheer daaroor het nie. Omdat die lewe so onseker en kortstondig is, moet ons eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Uiteindelik hang alles van die Here af.
Die Here wil nie hê ons moet so selfvoldaan met ons aardse lewe omgaan asof dit vir altyd en ewig gaan aanhou nie. Want dit sal nie! Ons ontvang lewe eintlik maar net ’n dag op ’n slag. Elke nuwe dag is ’n geleende tydjie; nog ’n nuwe gawe uit God se hand. Daarom moet ons onsself gereeld daaraan herinner: Ons ontvang net een dag op ’n slag uit ons hemelse Vader se hand! Kom ons gebruik dit wys en reg. Kom ons gee aan God die eer vir elke nuwe dag. Kom ons maak die beste gebruik van elke kans wat die Here ons bied.
Here, dankie vir vandag.
Stephan Joubert