Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Deur die Gees aangeraak

Lees 2 Korintiërs 1:21.

God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg (v  21-22).

Paulus skryf die tweede Korintiërbrief nadat dinge tussen hom en die Korintiërs baie versleg het. Hulle was so ontsteld oor Paulus se vorige brief dat hy sy reisplanne verander en hulle gaan besoek het. Met sy aankoms het dinge nog verder vertroebel. ’n Konflik met een gemeenteleier het gemaak dat Paulus uit die gemeente padgegee het. Dit was uiters pynlik vir die apostel. Hy het toe in reaksie op hierdie vernedering ’n “tranebrief ” aan die gemeente geskryf en dit met sy helper Titus na hulle toe gestuur. Gelukkig het hulle spyt gekry oor die onreg aan Paulus en die opstoker in die kerk vasgevat. In reaksie hierop skryf Paulus die tweede Korintiërbrief.

Paulus vertel nou vir sy probleemkinders daar in Korinte en ook vir ons dat alle Christene deur die Gees beseël is. Hierdie beeld ontleen Paulus aan die politieke wêreld van sy dag. Dit was in daardie tyd gebruiklik dat alle amptelike dokumente van hooggeplaaste leiers beseël is met hulle amptelike seël. Dit was die waarmerk van egtheid. Die apostel sê nou dat die Gees die waarmerk van egtheid in ons lewe is. Verder is die Gees ook die waarborg dat ons die ewige wenstreep sal haal. Sy spesiale bystand en hulp sal maak dat ons by die Here uitkom. Hy sal ons nooit deur sy vingers laat glip nie. Omdat die Gees in ons bly, is ons ewige heil gewaar­borg­. Die Gees is die lewende waarborg van ons redding!

Gees van God, dankie dat U my beseël het. Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.