Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Luister na die Gees se stem

Lees Galasiërs 4:1-7.

En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” (v  6).

God pas sy eiendom op, want Hy het bitter duur daarvoor betaal. Dit het Jesus se bloed gekos om ons almal sy kinders te maak. Die insetkoste om ons nuwe mense te maak was astronomies hoog. Dit het hemel en aarde beweeg! Daarom kan God nie bekostig dat een van ons ooit deur sy vingers glip nie. Ons kan nie deur sy hande val nie, want ons is veels te kosbaar.

Om seker te maak dat ons nie wegraak of verlore gaan nie verskaf God die beste Oppasser denkbaar om elke dag by ons te wees: die Gees van Christus! Hy kom maak woning binne-in ons. Ja, ons is die Gees se aardse adres. Hy bly in ons almal wat Jesus as ons Here bely. Die kerk is sy huis hier op aarde. Die goeie nuus is dat die Gees nie maar net in ons bly en dan verder niks doen nie; nee, Hy werk verskriklik hard binne-in ons. Die belangrikste werk is dat Hy elke dag in ons elkeen uitroep: “Abba, Vader!” Hierdie Aramese woord druk intimiteit en nabyheid uit, maar ook respek. Dus, die Gees bind ons daagliks baie intiem vas aan God, en Hy leer ons terselfdertyd om groot respek vir God te hê. Hy sorg dat ons nooit uit ons Vader se hand val nie. Hy maak dat ons lief bly vir God.

Luister mooi as die Gees vandag in jou binneste praat. Sy woorde en sy teenwoordigheid trek jou al hoe nader aan jou hemelse Vader.

Gees van Christus, dankie vir u uitroepe hier in my.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.