Boodskap vir Vandag

Search

Mense van die Gees

Lees Openbaring 11:6.

Hulle het die mag om die hemel toe te sluit (v  6).

Te midde van die onmeetbare chaos wat volgens Openbaring 11 aan die orde van die dag is gedurende die eindtyd, is daar ook ’n hele paar brokkies goeie nuus. Hier in die eindtyd is daar twee getuies aan die werk: Hulle dien as simbool van die kerk van die Here wat enduit volhard. Volgens vers 4 is hierdie getuies soos olyfbome (Sag 4:2): Dit dui op die krag van die Gees wat in die kerk van die Here aanwesig is. Hulle is ook soos twee lampe wat God se reddende lig weerkaats. Die kerk van die eindtyd is soos Moses en Elia (Op 11:5-6): Hulle is Geesvervuld, en tree met groot gesag op.

Tog is daar ook slegte nuus vir die kerk: Die sataniese dier, van wie ons meer hoor in Openbaring 12-13, veg teen die kerk en maak hulle dood. Tydens die ganse eindtyd (“drie en ’n half dae”) is die kerk se lyke oral op straat te sien. Onder al die goddeloses (wat as Sodom uitgebeeld word) en al die vervolgers (Egipte) word daar feesgevier oor die kerk se lyding. Maar aan die einde van die tyd sien die wêreld dat die kerk steeds leef wanneer daar hemelse lewe in hulle kom (Op 11:11). Die kerk gaan woon dan aan die einde van die tyd vir altyd by God (1 Tess 4:16-17), terwyl die goddeloses sterf en vernietig word.

Ja, die kerk wen in en deur Christus – vir altyd!

Here, hou my lewe op u koers! Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.