Lees 2 Samuel 16:15-23.
Maar Absalom en die hele Israel het in Jerusalem aangekom (v 15).
Wat maak ’n mens as jou lewe in chaos verval het soos dié van Dawid? Sy seun het hom uit die pad gestoot en sy geliefde stad Jerusalem oorgeneem. Jy kan daaroor tob en jou hele lewe lank terneergedruk bly. Maar dit gaan jou niks laat vorder op geestelike gebied nie. Daarom moet jy vandag leer om jou blik te verskuif na God toe.
Iemand wat heeldag in die tuin werk en teen skemeraand huis toe stap, sien nie raak hoe vuil hy is nie – totdat daar lig op hom val. Wel, so gaan dit ook met ons. Hoe nader ons aan die Here se reddende lig beweeg, hoe duideliker sien ons die donker kolle in ons lewe raak.
Wanneer jy hande in die hare sit oor al jou foute, moet jy besef dit is ’n teken dat die Here se soeklig skerp op jou skyn. Moet egter nie die fout maak om aan te hou staar daarna nie. Nee, kyk dadelik weg. Kyk op na die Here. Hy sal jou lewe nuut maak en deur sy Gees op sy eie manier met jou sondes afreken.
Here, help my om my oë net op U te rig.
Stephan Joubert