Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Moenie die Gees hartseer maak nie

Lees Efesiërs 4:30.

En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie (v  30).

Wanneer ons lelike dinge aan mense naby aan ons doen, maak ons hulle harte seer. ’n Man wat sy vrou verkul met iemand anders, doen groot skade aan hulle huweliksverhouding. ’n Tiener wat teen sy of haar ouers se leiding in verkeerde besluite neem, bring groot hartseer oor daardie huis. Hoeveel te meer veroorsaak dit nie droefheid in die hemel nie as ons willens en wetens dinge doen wat die Heilige Gees se hart seermaak!

Partykeer raak ons so tuis met die sonde dat ons dit sommer onnadenkend doen. Ons gee nie eens om hoe God daaroor dink nie. Of dit ontstel ons ook nie meer nie, want ons kan mos vinnig volgende Sondag by die kerk gaan askies sê.

Sonde ontstel die Heilige Gees. So skryf Paulus. Dit breek sy hart. Want sonde is opstand teen alles wat God besig is om in ons lewe te doen. Sonde trek ’n streep deur sy genade en deur sy nuutmakende werk in ons harte. Sonde is rebellie, vyandskap en opstand!

Moenie die Gees se hart breek nie. Moenie die tema van bespreking in die hemelse sale word omdat jy gedurig op verkeerde paaie afdwaal nie. Luister na God se stem. Loop agter Hom aan. Volhard op die regte pad. Moenie jou rug vir sy Gees se leiding draai nie, want sy werk is om jou lewe op die regte pad te lei. Volg sy leiding na, dan is daar vandag hemelse vreugde oor jou!

Heilige Gees, hou my gehoorsaam aan u leiding.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.