Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hemelse gawes moet reg gebruik word

Lees Rigters 14:1-20.

“Uit ’n eter kom daar iets te ete, uit ’n sterke kom daar iets soets” (v 14).

Wanneer ’n mens die naam Simson hoor, dink jy aan spiere en krag. Simson was die groot kragreus onder al God se helde. Hy was die man wat die Filistyne keer op keer met kaal hande oorwin het. Selfs leeus was nie vir hom ’n bedreiging nie, omdat hy op ’n dag een vreesloos doodgemaak het. Praat van krag! Tog het Simson ’n paar swakpunte in sy mondering gehad. Sy achilleshiel was sy voorliefde vir Filistynse meisies. Toe hy met een trou, het hy tydens die onthaal ’n raaisel aan die jong mans gestel wat hulle nie kon beantwoord nie. Sy nuwe bruid het die antwoord egter binne sewe dae uit hom getorring. Woedend is Simson toe daar weg Askelon toe waar hy 30 mans doodgemaak en hulle klere as geskenke aan die gaste gegee het. Hy self is hierna terug na sy pa toe terwyl sy jong bruid aan die strooijonker as vrou gegee is.

Dis wonderlik as die Here buitengewone gawes aan sy kinders gee, maar die gevaar is altyd dat hulle sulke gawes kan misbruik. Kyk maar na Simson. Hy het sy krag dikwels tot sy eie voordeel gebruik. Sy ontembare gees het gemaak dat hy nie regtig voor God gebuig het soos hy moes nie. Moenie dieselfde doen nie. Gebruik jou Godgegewe talente om Hom alleen te eer. Moenie die soeklig ooit na jouself toe verskuif nie. Dit is om by God te steel. Dit is om hemelse eer te neem wat jou nie toekom nie.

Dankie, Here, vir al my talente. Laat ek U daarmee verheerlik.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.