Lees 2 Petrus 1:5.
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid (v 5).
Verbeter die gehalte van jou geloof, sommer vandag nog. Dit is nie maar net ’n goeie voorstel van die apostel nie, maar ’n Goddelike bevel.
Maar hoe doen ’n mens dit? Deur deugsaam te wees en net daardie dinge te doen wat God bly maak. Moenie net weet wat reg is om te doen nie, maar doen dit ook. Hou dadelik op om slegs ’n prater te wees. Word ’n doener van al die regte dinge wat God behaag.
Kennis van die Bybel is onontbeerlik vir geestelike groei. Wanneer jy God se Woord bestudeer, is jy soos ’n boom wat reg langs die waterstrome staan. Daar is altyd volop kos en water, sodat jy op die regte tyd die regte soort vrugte kan dra. Kennis van die Here is jou veilige vesting wanneer versoekings oor jou pad kom en wanneer vals stemme jou probeer verlei.
Wil jy nie God se program om jou gees te verryk in jou eie lewe implementeer nie? Deugsaamheid en kennis is die eerste, onontbeerlike boustene van hierdie program. Oefen dit elke dag en kyk wat gebeur. Onthou, die gehalte van jou geloofsgroei staan in ’n direkte verhouding tot jou uitleef van God se Woord.
Here, maak my deugsaam en vul my met kennis van U.
Stephan Joubert