Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wees ’n getuie vir God

Lees Genesis 19:14.

Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: “Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg” (v 14).

Die slegste ding wat ooit met jou kan gebeur, is dat ander mense jou nie ernstig opneem as jy met hulle oor die Here praat nie. Dit het met Lot gebeur. Daardie dag toe hy sy familie gaan waarsku het om pad te gee uit Sodom, het hulle gedink hy maak ’n grap. Lot moes daardie dag die Here se boodskap van oordeel oordra, maar diegene naaste aan hom het hulle nie aan hom gesteur nie. Wat ’n tragedie! Hoekom het dit gebeur? Wel, omdat Lot dalk so ’n slegte getuie vir die Here was dat sy familielede hom nie ernstig opgeneem het toe hy vertel die Here se oordeel is op pad nie.

Dit is ’n kwade dag as mense dink jy maak grappies as jy met hulle oor die Here praat. Want dalk sien hulle net mooi die teendeel in jou lewe raak. Dalk hoor hulle hoe jy gereeld oor ander skinder. Dalk sien hulle hoe liefdeloos jy teenoor jou familie en vriende optree. Dalk staan hulle verstom dat jy nooit ’n goeie woord of ’n deernisvolle daad te spaar het vir diegene rondom jou nie. Daarom dat hulle jou godsdienstige praatjies nooit ernstig opneem nie. Want jou dade spreek op die ou end harder as al jou woorde.

Sorg dat jy van nou af ’n goeie getuie van die Here is; dat jou woorde en jou dade in pas met mekaar loop. Praat reg oor die Here en leef ook reg. Dan sal ander jou ernstig opneem. Ja, selfs al glo hulle nie in die Here nie, sal hulle ten minste weet jy is opreg.

Maak my ’n lewende getuie vir U, om Jesus wil!

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.